|
Retha Fitchat
VEREENIGING. - 'n Rewolusionêre en hoogs gevorderde mediese prosedure is stilweg besig om 'n dramatiese herstel in die lewensgehalte van rugpynlyers in die Vaaldriehoek mee te bring.
Dié operasie word sedert 2003 in die Midvaal-Hospitaal in Drie Riviere gedoen deur dr. Joe Breytenbach, een van slegs 'n handjievol geselekteerde en geakkrediteerde ortopediese en neuro-chirurge wat dit in Suid-Afrika mag doen. Hy het onlangs sy 100ste operasie van dié aard uitgevoer en werk in noue verband saam met een van die land se top radioloë van Vereeniging Medi-Clinic.
Die prosedure kan in sekere gevalle op mense met akute frakture na 'n ongeluk, of op lyers aan sekere kankertoestande, uitgevoer word. Dit is egter veral geskik vir mense met osteoporotiese kompressie-frakture, wat algemeen by ouer mense voorkom.
"Soos wat 'n mens ouer word, word die werwels sagter weens osteoporose. Die werwels raak inmekaargedruk en die gevolg is kompressiefrakture. Weens die verkromming van die werwelkolom lei dit dan tot 'n afname in 'n mens se longfunksie en -kapasiteit en gaan natuurlik met baie pyn gepaard," verduidelik dr. Breytenbach, wat sy opleiding vir die prosedure in Kaapstad deurloop het.
Die operasie bestaan daaruit dat 'n hoogs gevorderde instrument - 'n pypie met 'n balonnetjie vooraan - in die beskadigde rugwerwel geplaas word. Die balonnetjie word onder hoë druk opgeblaas om die gebreekte werwel se belyning te herstel. 'n Ruimte word in uiters beheerde toestande in die platgedrukte werwel geskep, wat dan met 'n spesiale soort sement gevul word. Die gevolg is dat die pasiënt na ‘n halfuur met 'n herstelde werwelkolom kan spog en pynverligting van tussen 94% en 100% ervaar.
Buiten dat dit beskadigde rugwerwels reduseer en stabiliseer, is die kans daarna minder vir verdere frakture. Die operasie herstel die rugbelyning en die meganiese as van die werwelkolom sodat 'n pasiënt nie meer vooroor loop weens 'n krom rug nie. Die grootste voordeel is egter dat 'n mens wie se lewensgenot weggeneem is deur voortdurende pyn, dadelik pynvry kan wees.
Operasie-komplikasies is minder as 1% en bloedverlies is maar 'n geringe 2cc tot 10cc (skaars 'n teelepeltjie vol). Die hersteltyd is baie vinnig: pasiënte kan 'n dag na die operasie opstaan en huis toe gaan - sonder 'n ongemaklike korset.
Ongelukkig is die prosedure nie geskik vir alle rugprobleme nie. Dit sal byvoorbeeld nie help vir diskusletsels nie, sê dr. Breytenbach. Dit is ook nie aangewese vir swanger vroue, mense met 'n bloedsiekte, beenontsteking of 'n jodium-allergie nie. Die operasie kan ook nie gedoen word as 'n pasiënt te lank gewag het en die werwels te plat gedruk is, of as ou frakture reeds geheg het nie.
Pasiënte moet verkieslik ouer as 35 wees, maar die operasie kan ook op jonger mense uitgevoer word. Pleks van sement, word kalsiumfosfaat dan in die werwel ingepomp omdat dit mettertyd weer kan omsit in been.
|